
Op 20 Desember 1989 is ek gebore, jongste van 3 dogters. My pa (die eerste man wat ek lief gehad het, boer in murg en been, groot snor en harde stem, maar hart so sag soos wol) en my ma (bobaaskok en boekhouer,rokmaker en beste vriendin) maak my groot op die plaas naby Kalkrand. My susters, Retha en Amanda word my eerste maatjies, of hulle dit nou wou wees of nie.
Op die plaas hardloop ek rond, ry saam pa veld toe, speel in my pophuis en maak 2 Minute Noodles saam met my ma op my eie kool stofie.
Op ouderdom 7 moet ek skool en koshuis toe gaan in Windhoek, tot vandag toe een van die slegste dae van my lewe...Maar vinnig moet ek aanpas en ek maak my laerskool klaar by Eros in Windhoek.
Naweke ry my ouers 1 000km om ons op die plaas te hê, net sodat ek met die motorfiets kan val en vandag nog die litteken dra - ek glo dit gee karakter :)
Hoërskool begin ek in WHS, weer in die koshuis, maar darem bietjie beter as Eros :) En raai wie is my senior? Chris!!
Graad 10 gaan ek na Duitsland vir 2 maande as uitruil student met die hoop op 'n "White Christmas", maar ek moes maar tevrede wees met 4 minute se sneeu. Graad 11 en 12 suffer ek om hoërgraad wiskunde deur te kom en al wat my pa sê is: "Jy sal wiskunde hoërgraad doen al sit jou oudste kind langs jou". Gelukkig gebeur dit nie en ek maak matriek in 2008.
My nuwe avontuur begin as BRek Matie student en in diè Utopia maak ek lewenslange vriendinne, dop my eerste toets (want dis lekkerder om na 4 danse in een week te gaan as swot) , kuier tot die son op kom, raak verlief en breek my toon. Een keer 'n maand ry ek Kleinmond toe om vir ouma en oupa te kuier (dankie ouma vir die huiskos en dankie oupa dat my kar se petrol tenk 'magically' vol was na 'n naweek). Met baie hulp van Marè, baie trane, lang ure, baie gebede en die meeste genade kry ek my BRek graad in 2011 en my Honneurs graad in 2012.
Ek begin my grootmens lewe in 2013 as oudit klerk by EY. My ouma verwys na my as verward en meer reg kan sy nie wees nie. Maar met haar en my familie (en Wim as ouerbroer) aan my sy oorleef ek klerkskap en kan ek uiteindelik CA agter my naam sit. Ek besef ook oudit is nie vir my nie en begin eerder 'n loopbaan by Old Mutual in 2016.
2017 Byt die reis-gogga my na ek Amerika besoek en ek kan New York van my 'bucket-list' afmerk. Dis ook die jaar wat 2 seuntjies ons lewens kom verander en 'baby-sitting' word my stokperdjie. Na 'n jaar van groot hartseer en groot vreugde kom gooi Chris my appelkar om en nooi homself om 'Boer soek 'n vrou' te kyk (let wel ek haat Boer soek 'n vrou), maar so begin "Ons storie"...

My storie begin op 7 Augustus 1985. Ek word wakker in die staatshospitaal in Windhoek. Vries my boude af, dis 'n blerrie koue oggend man. Dis nog voor onafhanklikheid, so alles werk nog. "What a time to be alive."
My pa Chris en my ma Magda bly nog nie lank in Windhoek nie. Hulle het onlangs verhuis vanaf Gobabis waar hulle vars uit universiteit begin skool gee het by Wennie du Plessis. My ma het haar tuiste in Johannesburg verruil vir Gobabis. Wat mens nie sal doen vir liefde nie.
My oudste suster Melanie en my jonger suster Liana, beide nog gebore in Gobabis, begin hul skoolloopbane by Pionierspark Laerskool terwyl ek nog doeke dra. My pa boer al vandat ek kan onthou, maar vir eers net op naweke. Dit moes seker makliker gewees het daai tyd om dit so te doen. Ek's seker dit het meer gereën ook...Ons bly in Academia. Jaspers Straat no 52. Posbus 30535. Tel no 41850. Nou het almal 'n 2 vooraan. Uiteindelik begin ek ook my skoolloopbaan by Parkies in 1993. My Pa het intussen by die Ministerie van Onderwys begin werk en koop toe ook die plaas waarop hy grootgeword het in daai jaar by my Oom Joodjie, sy oudste broer. As ek naweke nie atletiek gehad het of saam Kobus Kruger die naweek om gespeel het nie, het ek saam my pa plaas toe gery met die Blou Blits, 'n 2.2 Diesel Hilux bakkie. Ons almal sou later met hom leer bestuur en van toe af al het ek geweet alles loop reg, altyd reg....Toyota.
My pa word na die Onderwys kantore op Gobabis verplaas. Nou's hy baie nader aan die plaas want dis net 40km uit die dorp en hy bly in 'n woonstel sommer aan die agterkant van die Ministerie kantoor. Ek dink Melanie is daai tyd universiteit toe en ek, Liana en my ma bly agter in Windhoek. Liana is nog in Academia en my Ma hou toe ook skool by Pionierspark. Dit het gevoel of ek ook geskeide ouers het. Aaklige situasie.
Na 'n rowwe veldskool op Aus en aan die einde van graad 6, kry my ma ook 'n pos by die laerskool op Gobabis, Ben vd Walt. Ons moet nou trek. Ek word verkies op die leerlingraad, hoofseun nogal. Wat nou? "Nee" sê juf Van Vuuren, "Chris kan by ons kom bly." Juf Van Vuuren het oorkant die skool gebly. Ek en haar seun Tertius was tjommies. Ek bly vir 'n jaar by hulle en maak my graad 7 jaar klaar. Liana bly ook by een van haar vriendinne agter in Windhoek en maak haar matriekjaar klaar. So af en toe daag my pa net met 'n slagding op as hy in Windhoek is. Was seker maar deel van die huur betaling.
Klaar met laerskool en ek het sommer klaar besluit ek gaan nie nou in Gobabis begin skool gaan nie. Al my vriende is in Windhoek en WHS het mos 'n koshuis. My susters is heel spotterig omdat ek nou na die windgat blou skool toe gaan. Ek kan nie wag nie. Ons gaan die "sotte" (graad 8s) wees van die jaar 2000. Ons maak geskiedenis.
Ek maak klomp nuwe maters en die koshuis is nie maklik as jy dit nie gewoond is nie, maar almal ken mekaar. Ek is in die D klas saam Wim en Willie. Ons raak onmiddelik vriende en is tot vandag toe. Ons raak ook vriende met Mia, Maryke en Amanda. Almal meisies van die plaas af. Oulik man. Amanda kom van Kalkrand af. Ek het al gehoor daarvan maar weet nie waar dit is nie. Sy word my beste vriendin en op 'n dag word ek toe saam genooi na hulle plaas toe. Haar pa Boesman kom tel ons op by die koshuis en toe moet ons haar jonger sussie ook gaan op tel by Eros laerskool se koshuis. Sussie klim in die kar. "Chris, dis my sussie Marianne. Marianne, dis Chris..."
Hoërskool vlieg verby en ons het dit wragtag gemaak tot in matriek. Ek word in WHS ook verkies op die leerlingraad, die keer onderhoofseun en my kamermaat en groot vriend Estee, is hoofseun. Dit gaan 'n goeie jaar wees. Ons beurt om die "sotte" bietjie te ontgroen. Amanda is intussen gekys met Willie en haar sussie ook 'n sot in graad 8. Met ons eerste koshuisaksie met Karlienhof (die meisieskoshuis) sien ek toe weer die eerste keer vir Marianne. Ek dink by myself, dis wragtag 'n oulike klein sot en hierdie meisiekind gaan nog mooi raak na matriek toe. Haar pa gaan sy hande nog vol hê...In 2005 pak ek en my klein neef Manie die lang pad aan Pretoria toe. Ons is eerstejaars met 'n blink toekoms wat op ons wag. Ek en Estee sou beide RAU toe gegaan het en weer in dieselfde koshuis bly, maar ek besluit op die einde toe om Pretoria toe te skuif. Liana het ook daar studeer en my ma se familie is almal daar naby sowel as my pa se suster. So by so maak dit net sin want Loftus Versfeld is langs kampus en die Blou bloed vloei dik deur my are.
Ek gaan swot BCom Rekeningkundige Wetenskappe. Ek moet tog goed wees daarin want ek het dan 'n beurs gekry by Ernst & Young. Met ons eerste klas sê die dosent "Kyk na die ou links, regs, voor en agter jou. Net een van julle gaan dit maak die jaar" Ek dink by myself, hierdie ou ken duidelik nie Cambridge nie. Ek sal oraait wees. Min het ek geweet hoeveel selfdissipline dit gaan verg en hoe lekker varsity kan wees. TUKS of NIKS en voor ek my oë kon uitvee toe swot ek BCom Terug Huis Toe.
Oom Willem Boshoff (Wim se pa) reël vir my 'n werkie by 'n gesogte ouditfirma in Windhoek. Hy is een van die vennote, maar die vereiste is ek moet klaar swot deur UNISA. Werk en swot is nie maklik nie, maar na 'n lang gewroeg en klomp laat aande het ek die graad in die sakkie. Uiteindelik!
Op Paasnaweek hak Willie en Amanda uiteindelik die knoop deur. Marianne het net begin werk as ouditklerk in Windhoek en ek sien haar die eerste keer na skool weer by die troue. Wragtag mooi geword nes ek gedink het. Hier sal ons moet plan maak, maar ek sien hier's 'n ander knaap ook al agter haar aan, 'n Johan of iets. Ek vra bietjie rond en tot my spyt hoor ek dis haar universiteitskêrel. Dis nou vir jou teleurstellend.
Ek, Willie en Nico Ruppel gaan eet gereeld sommer net 'n brötchen by Stellenbosch restaurant se koffie winkel in die week vir middagete. Marianne is intussen weer enkellopend. Ek het geweet hierdie afstand ding sal nie werk nie en ek dring daarop aan Willie moet sy skoonsus saam nooi vir middagetes. Sy werk mos daar naby. 'n Hele paar kuiers en koffies later en dinge lyk goed, of altans, ek dink so. Ons gaan gereeld Stellenbosch restaurant toe. Die diens is goed en die "manager" ken sy besigheid. Die "manager" weet ook hoe om met die dames te flikflooi en watse meisie sal nou nie hou van 'n ou wat sy eie restaurant het en vir jou gratis wyn kan aandra nie. Toe ek weer sien is dit net (M)anager voor en (M)anager agter. Nee o donner, hierdie girl weet nie wat sy wil hê nie...
Na my graad kry ek weer moed en doen toe sommer my destydse "CFA" ook. Nog een in die sakkie. Ats, dinge gebeur nou en dis tyd vir 'n skuif. In 2015 begin ek werk vir 'n eiendomsontwikkelaar as projek rekenmeester. Ek sukkel met die meisies. Hier is nou wragtag net 'n spul mans en die oulikes is almal gevat. Selfs Marianne. Sy't alweer 'n ander kêrel. Ek, Willie en Nico vat nou al weddenskappe oor hoe kort sy enkellopend bly. Hulle skuld my nog.
2017 en my vriende is almal getroud, het kinders of is verloof. Ek sal moet nuwe vriende kry. Hier's nou sommer 'n klomp nuwe gesigte in Windhoek en vir 'n slag is die meisies meer as die ouens. Lyk of die weer nou gedraai het en eweskielik kan niemand meer sê daar's niks om te doen in Windhoek nie. Willie en Amanda kry ook 'n pienkvoet en Willie vertel my net hoe oulik is Marianne met die seuntjies. Ek kan nie minder omgee nie. Op 'n ander geleentheid vra Amanda of ek nie maar vir Marianne bietjie wil betrek by ons vriendekringe nie want vandat sy en haar kêrel nou weer uit is, sit sy net by die huis of speel pop met die babas.
Ek nooi haar saam wynskou toe. Dalk is dit net wat sy nodig het. Sy klink ewe gretig en ons kuier 'n hond uit 'n bos die aand en sy vertel my dat sy nou weer enkellopend is. Ek maak of ek van niks weet nie. Ek kom tot die besef dat ek eintlik haar geselskap gemis het. Sy's sommer 'n ander mens. Ons bly daarna in kontak. Ek het op daai oomblik nie TV nie, maar ai, die nuwe seisoen van Boer Soek 'n Vrou gaan begin. Ek dink wag, Marianne het DSTV en ek is mos 'n plan makertjie. En so begin "Ons Storie"...

Marianne: So begin ons storie dan nou toe Chris homself nooi om by my te kom "Boer soek 'n vrou" kyk. So elke tweede week of so maak ons 'n afspraak en vang dan op met 2 of 3 episodes. Noodloos om te sê gee ek elke keer vir Chris kos, want 2 of 3 episodes raak lank. Chris begin skuldig voel en belowe om vir my uit te vat vir ete wanneer die reeks verby is.
So kom Desember vakansie en vergete is die belofte. Op my verjaardag, voor almal hulle koers kies vir die vakansie, kom groet Chris vinnig, en deur die vakansie gesels ons so dan en wan op Whatsapp, maar niks ernstig nie, my hart genees nog na die liefdesteleurstelling van September.
2018 Breek aan en ek het jaareinde so ek spandeer al my tyd by die kantoor, en Chris is doodstil. Al boodskap wat ek van hom af kry is 'n advertensie vir Nostalgie se "Love Songs" aand in Februarie. Vir die van julle wat nie weet nie, Chris is deel van 'n orkes met die naam Nostalgie en Chris sing vrek mooi!
Ons het nog 2 of 3 episodes "Boer soek 'n vrou" om te kyk, dankie tog vir DSTV Explora, en Chris raak vir my al hoe meer interessant, maar my hart is maar nog bang.
Die "Love Songs show" breek aan en ek en familie sit in die voorste ry, ouma grootjie pas baba's op. En êrens tussen "I don't wanna miss a thing" en "The Gambler" besef ek ek hou actually van die man, baie!! Na afloop van die show gaan almal Bendehuis toe, en ek begin uitvis wie is in Chris se radar, paar name kom op. Die Saterdagaand na die show gaan Chris kamp saam 'n klomp jonges, ek is by die huis. Na die kamp hoor ek net van die klomp oulike meisies in Windhoek en ek raak bekommerd! So kom en gaan Valentynsdag ook, niks!
Êrens besluit ek en Janel ons wil Europa gaan toer, Chris sê hy wil saam en ons eerste beplanning sessie is in John Dory's. Ek flirt 'n ding laf. Janel kan net 'n kort rukkie bly en daar sit ek en Chris, ons besluit toe maar om te gaan fliek, nie watse fliek nie, Fifty Shades Freed... Ons raak nie aan mekaar nie en kyk ook nie vir mekaar nie, vreeslik akward. Na die fliek stap Chris my kar toe soos 'n regte gentleman en ek dink okei miskien nou... NIKS! Ek klim daardie aand in die bed en dink: "nee wat, hy stel nie belang nie" en besluit dit is seker dan nou maar die einde.
Skielik onthou Chris sy belofte en sê ek moet Vrydagaand oophou, hy kom tel my so laat op en ek mag niks verder vra nie. Nou ja toe, hy wil seker maar net sy belofte na kom en ook die hoofstuk afsluit.
Chris: Ek besluit om plek te bespreek by "Que Tapas" restaurant. Nie te formeel nie en baie gesellig. Toe ons weer sien is twee bottels wyn op en ons kuier 'n hond uit 'n bos. Marianne vertel my haar hele lewensverhaal en die aand verloop baie goed, maar ek het sommer vooraf geweet dis vanaand of nooit. Ek sal 'n move moet maak en vinnig.
Klaar geëet en gewyn, besluit ons om te gaan dans. Dis immers iets waarvan ons altwee hou en waar dan nou anders as die Geheime Bendehuis. Op pad kar toe onder die liggies en bome van Liliencronstraat steek ek vas, trek haar nader en soen haar in die middel van die straat dat sy weet sy's behoorlik gesoen. 'n Groot sug van verligting kom van Marianne en word gevolg deur die woorde: "Uit-freakin-eindelik!"
Ek is sommer klaar op die skoonfamilie Whatsapp groep en Marianne kan nie wag om almal te vertel nie. Ek besluit om die nuus eers bietjie later te breek aan my familie want sy't dan nou vir my gesê sy's nog bietjie "old school" en ek sal haar eers moet uit vra voordat ek haar my meisie kan noem, maar intussen het ek hulle vertel van die hele Boer soek 'n Vrou kykery by mej Lambrechts. Na ongeveer twee weke is ons so verlief dis net nie snaaks nie. Ek moet die naweek plaas toe gaan na my ouers toe. Ek vra haar uit die Woensdagaand en die volgende dag vra ek my ma of ek maar my "meisie" kan saam bring vir die naweek. Sonder om te blik of te bloos vra my ma: "Is dit dalk Marianne?" Ouers is glad nie stupid nie...
By Thomas en Sanet se troue, staan en gesels ek en hy oor die komende rugbywêreldbeker. Ek, Thomas, Justin en Jacques vd Smit was met die vorige een saam Engeland toe en ons besluit net daar en dan ons kan nie die tradisie nou breek nie en wanneer gaan jy nou ooit weer in jou lewe Japan toe wil gaan. Ons sal moet gaan. Marianne dink nie eers twee keer nie en is dadelik ook in. Ek kon nie my geluk glo nie. 'n Meisie wat saam my wil gaan rugby kyk en dit in Japan! Hier sal ek moet vasklou.
Die eerste jaar en 'n half vlieg verby en ons het intussen al gepraat oor trou en gesê ons wil ten minste net al verloof wees teen einde 2019, maar die ekonomie knyp, dis droogte en waar moet ek nou geld uitkrap vir 'n diamant? Maar ek is 'n plan makertjie en ek besluit om haar te vra in Japan. Ek kry die ring. O gats, ek moet seker nog ouers vra. Ek en Oom Boesman konkel so bietjie en hy laat weet my hy moet een middag in kom Windhoek toe dan kry ek hulle sommer vir middagete. Hy sal sorg dat die tannie ook saam kom. Nadat ek al die ys van my koeldrank klaar gekou het vertel ek hulle wat die plan is en ek't skaars begin om die vraag te vra en Boesman steek sy hand uit, plak 'n palm en sê: "Welkom in die familie"
Uiteindelik in Japan en na baie inspanning om die ring deur doeane binne in 'n sokkie en in een van my skoene weg te steek, breek die groot dag aan. Die Seifarts en Pienaars wat saam op toer is, weet van die groot vraag en alles is baie mooi beplan vir die 1ste Oktober 2019. Die dag is chaos en ek raak paniekerig en Marianne kan nie verstaan wat gaan met my aan nie. Ons is net betyds en klim op die bootjie wat ek vooraf gereël het op die Dotonbori Rivier en toe ons die liggies van die distrik sien, kniel ek op die een been en vra Marianne om my vroutjie te wees. Die volgende oomblik "pop" daar 'n bottel en Schalk skink vir ons sjampanje wat hy by 'n 7Eleven gou vooraf gekry het. Ek kan uiteindelik asemhaal. Hierdie dag sal ek nie sommer vergeet nie.
En hier skryf ons nou die einde van 'n storie, maar staan in groot afwagting met opgewondenheid en tel die dae af tot die begin van 'n nuwe verhaal as Mnr en Mev De Jager. En die ink is nog lank nie op nie...